Liwonde Nasionale Park neig sommer teen 9:00 al na 30 grade en ons maak ontbyt terwyl Werner die bobbejane met klippe teister.
Teen middagete ry ons die dorp Zomba binne met 'n belowende 'Steers' bordjie! Al proe en lyk die pienk vleisie volksvreemd, is ons nogtans opgewonde oor lankvergete wegneemkos.
Die landskap verander vinnig en die stofdorpies word rondgeruk deur aanhoudende warrelwinde. Vrouens klou aan hul lap-rompe en groentestalletjies vas. Die Mulanje bergreeks omring die stofpaaie en ons soek tevergeefs na kampplek of blyplek vir die aand in die verwaarlose geriewe.
Raadop bel ons die 'Lujeri tea estate' wat eintlik slegs groot huise teen Europese pryse verhuur. Die man is nie gewillig om ons in die huise te laat nesskop nie, maar bied 'n kothuis agter sy huis aan. Dankbaar sluk ons swaar aan sy voorgestelde dollar bedraggie..
Op Lujeri aangekom, raak ons gemaklik bevriend met die gawe man, die tee-direkteur. Ons gesels laataand terwyl sy kok lekker aandete voorsit. Hy nooi ons om nog 'n aand oor te bly en reël sommer dadelik 'n toer van die plaas..'n geskenk van Bo!
No comments:
Post a Comment