Cape Maclear (of Chembe), in die Lake Malawi Nasionale Park, lê langs die meer en is 'n bekende toeriste-dorpie. Die Kriele het self jare gelede by Chembe Eagle's Nest vakansie gehou..en ons gaan kyk hoe dit deesdae lyk. Effens teleurgesteld in die ontwikkeling en die village-reuke wat die lodge omring, kamp ons nogtans 'n paar dae tussen die rotse met 'n uitsig oor die Thumbi, Mumbo en Domwe eilande.
Likkewane, kleurvolle akkedisse, visarende en stoute apies is volop en 'n hangmat onder die bome sorg vir lekker lui dae..
Otter Point dieper in die park is eiland-materiaal..ligblouwater, groot ronde grys rotse en swewende visarende. Die snork (soos wat die locals snorkel noem..) is asemrowend, groot getalle vissies (genaamd Cichlids) in helder kleure vreet aan die rotse en swem om ons.
In Monkey Bay besoek ons die hawe waar die legendariese Ilala skip staan, die alternatief vir die Chilembwe na Likoma eiland. As gevolg van herstelwerk aan die Ilala het ons uitgemis op die luukser en gemakliker opsie.
Sonsondergange op Chembe is besonders, maar snags hou óf moedswillige muskiete óf village-honde wat aanhoudend blaf omdat hiënas hul bok-maats vang ons wawyd wakker. Na vier aande is ons gereed om aan te beweeg na blouer waters....
No comments:
Post a Comment