Saturday, 13 August 2016

Dag 26: The Mushroom Farm

















Die pad na Livingstonia (met 26 'bends') is nie grappies nie..die rooi skilpad kry skoon warm op 'low range' sodat ons moet stop om hom vars lug te gee.

15km neem ons 90 minute en ons draai by The Mushroom Farm in vir ete.  Verras deur ons ou(er) kampvriende se voertuie op twee van die drie kampplekke en nog lekkerder verras deur die besonderse plek!

The Mushroom Farm is 'n Aussie-man se baba wat nou aan 'n Amerikaanse broer en suster behoort.  Die 'Farm' is op die hange geleë met 'n ongelooflike uitsig oor die Malawi meer en die vallei doer onder.  'n Volhoubare 'off the grid'-leefstyl met kompos-toilette, groentetuine en solar beïndruk en die 'boustyl' van boomhuis(ies) teen die hange is vrek oulik.  Elke fasiliteit is 'n foto werd, van die toilette tot die Safari tente.  Die kreatiwiteit van hierdie plek is besonders.

The Mushroom Farm se naam is blykbaar te danke aan die verskillende sampioene wat in die vallei voorkom..ons het ons bedenkinge dat dit die enigste sampioene is waarna hul verwys.....

Die spyskaart is suiwer vegataries en ons bestel maar huiwerig vir die boerseun 'n Mushroom Medley.  Die middagete oortref alle verwagtinge..een van die lekkerste maaltye wat ons al ooit geniet het (SA ingesluit).  En dit sonder vleis vir twee karnivore!  Ons maak sommer 'n bespreking vir aandete wat ons saam ons nou ou (ou) vriende tot in die laatnag geniet.

Hierdie plaas is 'n besoek werd..plaasseuns eet selfs groente hier!

No comments:

Post a Comment