Dis nog pikdonker, maar ons is op vir 'n vroeë wildrit..gepantser met 2 lae klere en balaklavas. Die oulike gidse David en Reuben het die voertuig gister al met die Lunga pont oor die rivier gevat ..ons sal met die boot vaar tot aan die oorkant..in die donker..ons hoop Max vreet nog gras!
Behalwe Puku, Lichtenstein hartbees (-1) en ander gediertes..word ons bederf met ses leeuwyfies en twee (vrek cute) welpies wat aan die vermiste hartbees vreet. Die Zambiese leeus is veel donkerder van kleur..of stof..en vreet gulsig terwyl ons hul dophou. 'n Agterdogtige welpie pen ons vas met sy groen ogies en skoert later baie wantrouig die langgras in.
Laatmiddag word ons weer bederf met 'n aandrit. Weer gepantser..dit raak gou ysig as die son sak..en ys klingel in G&T.
Die bos is maar stil..oulike nagapies spring tussen 'Sausage' bome en 'n muskeljaatkat(?) soek na aandete. Gesoute kat-soeker Reuben sit hoog op sy pos..en daar is hy...Leopard lodge se luiperd!!
Hy is skrikkerig vir ons ligte, maar besluit om tog met sy kolle te spog.. Hy loop waaragtig reg rondom die voertuig, in die oopte..probeer dan en wan onder takke inkruip..en pronk dan ewe kordaat met sy voorpote op 'n stomp en kyk ons diep in die oë. Hoendervleis!!
'n Romantiese etenstafel is by die kamp gedek langs 'n warm vuurtjie..hierdie is 'n bederfplek!!
No comments:
Post a Comment